Datum:
Opskrif:
Gedagte:
12/2 Goeiemore. Dis weer Dirk wat met u gesels. Ons is steeds by ons verhaal in Numeri 12. Gister het ons gesien dat Mirjam en Aaron teen Moses in opstand gekom het omrede hy met ‘n Kussietiese, of vandag beter bekend as ‘n Etiopiese vrou, getrou het. Die opstand is moontlik aangehelp deur jaloesie aan die kant van Mirjam omrede haar broer Moses in ‘n posisie van meer outoriteit was. Volgens vers 2b het die Here die gesprek tussen die drie gehoor. Vers 4 se vir ons dat God onmiddelik die drietal opgekommandeer het om Hom by die tent van ontmoeting te kry. Baie interessant is om te sien dat die vers tussen die twee nl vers 3 net vir ons wil vertel dat Moses ‘n uiters sagmoedige man was, meer as enigiemand anders op die aarde. Dit kan moontlik die rede wees waarop God ingegryp het om Moses se saak te behartig. En God was kwaad hieroor. Vers 9 se dat God se toorn hieroor ontvlam het en dat Hy van hulle weggegaan het. Moses het nooit ‘n woord gespreek nie. God het die situasie namens hom beredder. Dit herinner aan Moses se eie woorde aan die volk in Eks 14:14 toe hy vir hulle gese het Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg”. Ons het gister gepraat van mense, of eerder nader aan die huis, gelowiges wat mekaar seermaak. Ook binne die kerk. Maar vir diegene wat so maklik kla dat hulle verontreg voel deur ander binne die kerk is hier ‘n baie goeie les uit te leer. Ons sien nie dat Moses dadelik verontwaardig was en op sy regte aangedring het nie. Ons sien nie dat Moses na die ouderlinge toe gegaan het en aangedring het daarop dat Mirjam en Aaron tot verantwoording geroep moet word nie. Moses het ‘n sagmoedige gees gehad. Hy het God vertrou om sy regsaak te behartig. Ons lees nerens dat Moses kwaad of ontsteld was oor sy broer en suster se optrede nie. Inteendeel, hy is die een wat by God gaan pleit het om Mirjam gesond te maak. Moses se reaksie op die onregverdige behandeling wat hy ontvang het is vreemd maar tog insiggewend. Vreemd vir ons, want ons hedendaagse kultuur dring mos aan op vergelding. Dit dring aan op regte. Dit dring aan op straf vir hulle wat my verontreg het. Moet ons altyd ons sin kry wanneer dit by verskille kom. Tree ons nie eerder soos Christus op wanneer ons met ‘n sagte antwoord die woede laat bedaar nie? Of om somtyds net die situasie te los dat God dit self hanteer, want Hy ken die waarheid beter as enigiemand anders. Om in plaas daarvan om die bokshandskoene aan te trek liewer die voorbeeld van vergifnis te wees nie. Sonder dat Moses ‘n woord gese het, het Mirjam haar verdiende straf ontvang. Miskien moet ons meer rusies en twis aan die Here oorlaat om te hanteer en God dan te vertrou vir die uitkoms. Om nie op ons perdjie te spring wanneer ek voel ek is verontreg nie, maar om soos gelowiges dit veronderstel is om te doen God toe te laat om sy wil te laat geskied. Hy weet per slot van sake baie beter. Here, ek is jammer dat ek altyd so vinning op my perdjie spring in plaas daarvan om U toe te laat om my saak te behartig. Help my om U meer te vertrou. In Jesus Naam