Datum:
Opskrif:
Gedagte:
11/2 Goeiedag. Dis weer Dirk wat met u gesels. Ek is seker as ek vra wie van u al deur iemand in die kerk seergemaak is, almal dadelik ja sal antwoord. Ek sien al hoe al die virtuele hande opgesteek word. Ons lees van ‘n baie interessante insident in Num 12 wat plaasvind tussen Moses en sy eie broer Aaron en suster, die profetes Mirjam. Skielik is Mirjam en Aaron ontsteld oor die feit dat Moses met ‘n Kussietiese vrou getrou het. Sommiges vermoed dat hier na Sippora verwys word, maar dit is moontlik dat Sippora op hierdie stadium al oorlede was. In elk geval sou Moses se huwelik met Sippora nie so lank na die huwelik eers ‘n problem geword het nie. Vanuit die grammatika van Num 12 kan ons ook aflui dat hierdie huwelik van Moses baie onlangs was en nie iets was wat baie lank terug gebeur het nie. Dit blyk dat Mirjam in hierdie geval die opstoker, of moet ek liewer se, die kwaadstoker was. Die rede hiervoor is dat haar naam voor die van Aaron genoem word soos dit gewerk het in die Hebreeuse kultuur. Die belangrikste rolspelers in enige narratief is eerste genoem. Dit blyk ook verder uit die feit dat ons in vers 10 lees dat die straf vir hulle optrede slegs op Mirjam geval het. Ook is die woord “aangespreek” in vers 1 in die vroulike vorm geskryf. Daar staan in die oorspronklike dat “sy hom aangespreek het”. Kom ons kyk dan vanoggend na een aspek van hierdie verhaal. Aaron is hier slegs ‘n bystander en dit wil blyk dat hy deur Mirjam saamgesleep is om in opstand teen Moses te kom. Aaron het ook maar net saamgestem met Mirjam. Net soos wat hy gedoen het toe die volk hom gevra het om die goue kalf vir hulle te maak. Maar net ingestem en gedoen wat ander van hom vra. Dit wil vir my blyk dat Aaron nie die sterkste persoonlikheid gehad het nie en in vandag se taal sou ons hom ‘n people pleaser genoem het. Hoe baie sien ons dit nie in ons alledaagse lewe nie. Mense word maar met die stroom saamgesleep en as daar van iemand geskinder word of daar word negatief na iemand verwys, knik hulle maar net instemmend saam. Die moed ontbreek hulle om op te staan vir dit wat reg is, om op te kom vir die persoon teenoor wie sleggepraat word. Dit herinner my aan ‘n gesegde wat ons so baie met ons kinders gedeel het: If you stand for nothing, you will fall for anything. Aaron was nie werklik ‘n toonbeeld van iemand met vaste beginsels nie. Inteendeel, ons lees nerens in die SKrif dat hy werklik leiding geneem het in enigiets nie. Hy het maar met die stroom saamgegaan. Die feit dat ‘n gesant van God, sy eie broer, negatief geraak word, het nie eers in sy gedagtes opgekom nie. Hy het nie eens oorweeg om vir Moses op te kom nie. Paulus herinner ons hieraan in Rom 15:1 en 2. LEES!. As gelowiges is ons nie geroep om ‘n gewildheidskompitisie te wen nie. Waar ons sien dat iemand te na gekom word is dit ons verantwoordelikheid om vir diegene op te staan wat dit nie vir hulself kan doen nie. Hierdie rewolusie in die kleine het binne die gesin van Moses gebeur. Sy eie suster en broer het teen hom in opstand gekom. En soms begin baie van hierdie klein rewolusies in die kerk. Tussen gelowiges. Juis die plek waar mense die veiligste moet voel, waar hulle nie bang moet wees om hart oop te maak of te bieg oor iets persoonliks nie. Daar is so baie Mirjam en Aarons daarbuite. Ons het hulle nie nog in die kerk ook nodig nie. Kom ons as gelowiges skep die veilige hawe vir ander gelowiges waarbinne hulle hul harte kan uitstort sonder om veroordeel te word, sonder om bekommerd te wees dat hulle seerste seer more by ander rondvertel gaan word. Kom ons kom op vir hulle wat te na gekom word soos Christus dit van ons verwag. Vader, help my om altyd ‘n wag voor my mond te he. Om altyd die belange van ander eerste te stel bo my eie. Amen