Datum:
Opskrif:
Gedagte:
10/02 Goeiemore aan elkeen van u. Dankie dat ek, Dirk, weer saam met u kan kuier. Op 16 Oktober 2022 is ‘n Franse onderwyser, Samuel Paty beskuldig dat hy spotprente oor die profeet Mohammed aan ‘n klas sou gewys het. ‘n 13 jarige meisietjie het dit aan haar pa vertel en dieselfde dag nog is Paty deur ‘n 18 jarige ekstrimis onthoof. ‘n Paar weke daarna het die 13 jarige meisietjie erken dat sy daaroor gejok het en dat sy die betrokke dag nie eens in die klas was nie. Maar gedane sake het geen keer nie. Die skade is gedoen. ‘n Onderwyser het onskuldig gesterf op grond van die woord van een kind wat ‘n leuen vertel het. Woorde kan baie verrig. Dit kan onberekenbare skade aanrig, soos gesien kan word in die voorval waarna ek verwys het. Spreuke 25:18 vergelyk iemand wat vals teen sy naaste getuig, maw wat valse woorde teen iemand anders spreek met ‘n knopkiere, ‘n swaard en ‘n skerp pyl. Dit is alles dinge wat vir doodmaak bedoel is. Want woorde kan doodmaak. In ‘n geestelike en emosionele sin. Het dit al met u gebeur dat iemand vir wie u omgee se afbrekende woorde soos ‘n swaard deur jou hart gaan? Dat dit pyn veroorsaak wat erger is as enige fisiese pyn? Dis die krag van sinnelose woorde, en die Skrif se dat sulke woorde van ‘n dwaas kom. Dis nie moeilik om iemand seer te maak met jou woorde nie. Ja, enige dwaas kan dit regkry. Dis geen prestasie nie. Sommige mense wild it he dat ons blykbaar die mag het om omstandighede ten goede en ten slegte te verander deur dit sodanig uit te spreek. Hulle grond hierdie teorie op een enkele vers naamlik Spr 18:21 wat se dat die tong mag het oor lewe en dood. So asof ons woorde magiese kragte het. Maar dis nie wat hierdie vers se nie. Hierdie teksgedeelte beaam slegs al die ander tekste in Spreuke en die NT dat ons baie skade kan aanrig met ons woorde. Ons kan mense se selfbeeld skade berokken, ons kan hul eer krenk, ons kan hul waardigheid aantas met dit wat ons se. Dit word bevestig deur Spr 12:6 wat se dat Goddeloses stel met wat hulle se dodelike hinderlae vir ander, opregte mense red ander met wat hulle se. Maar ons kan die ander kant van hierdie muntstuk kies. En dit is deur woorde te uiter teenoor ander wat opbou. Om nie leuens te versprei nie, om maar die lekker geskinder te los, om maar altyd Spr 15:28 in gedagte te hou. ‘n Regverdige mens dink voor hy antwoord, goddelose mense se net slegte dinge. Is dit nie ‘n goeie beginsel om volgens te leef nie? Om bloot net te dink voor ons praat. Om net eers ‘n saak te deurdink voordat ons net los en vas opinies gee. Kom ons weerhou ons van woorde wat skade aanrig. Ons is tog in beheer van ons tong, en nie andersom nie. Kom ons leef dan asof dit so is. Van nou af praat ons opbouend, bemoedigend, met respek teenoor ander. Want die manier waarop ons praat is een van ons kragtigste getuies as gelowiges. Maar dit kan ook die vinnigste wyse wees waarop ons ons eie getuienis as gelowige vernietig. Here, help my om my tong te beheer. Om net bemoedigende woorde te uiter en ander tot geloof in Christus op te bou deur dit wat ek se. In Jesus Naam