Datum:
Opskrif:
Gedagte:
6/2 Goeiemore. Dis weereens Dirk wat met u gesels vanoggend. Dankie vir die voorreg. As ek die Psalms soms lees kan ek myself tog so vereenselwig met Dawid. Soms was hy in die wolke oor die goedheid en guns van God wat hom toebedeel word. En soms was hy ook maar erg depressief, soos wat ons lees in Ps 13. Luister ‘n bietjie hierna: Hy begin die psalm met die volgende woorde: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae in kommer deurbring?” Nou as dit nie depressief is nie dan weet ek nie wat is nie. Dalk was Dawid maar net in ‘n tyd van selfbejammering. Hoe dit ookal sy, niemand van ons kan vingerwys nie want almal van ons het al so gevoel. Maar binne al hierdie geweeklaag van Dawid is daar een aspek wat in hierdie psalm vir my uitstaan. In vers 4 spreek hy die volgende woorde: “Luister tog en antwoord my, Here my God”. Dis ironies dat Dawid, ten spyte van die feit dat hy voel dat God hom vergeet het, dat God van hom af wegkyk, dat hy sy eie planne moet maak en sy dae in kommer moet deurbring, God steeds aanspreek as “Here, my God”. Te midde van dit alles is Dawid steeds by God. Alhoewel dit vir hom voel of God hom verlaat het, weet hy diep in sy binneste dat dit nie so is nie. God is steeds sy Here, sy God. Het u al gewonder hoekom slegte goed met goeie mense gebeur en hoekom dit soms lyk asof net goeie dinge gebeur met mense wat ons dan nou as minder goed beskou? Wel, as u soos ek is, dan het u ook al daaroor gewonder. En ek het maar troos gevind in die feit dat ons daardie vraag nie aan hierdie kant van die graf gaan beantwoord nie. Ons weet net nie. Maar miskien moet ons vanuit ‘n ander hoek hierna kyk. Miskien gaan dit ons sienswyse verander as ons op ‘n ander manier hierna kyk. Ek dink wanneer ons die konteks van die hele psalm 13 in ag neem is dit duidelik dat alhoewel Dawid ver van God gevoel het, hy steeds besef het dat God nog altyd naby is. U sien, dit gaan nie oor wat in ons lewens gebeur nie, maar oor Wie in ons lewens is. En hierdie is Wie met ‘n hoofletter. Dawid het beslis nie die wonderlikste en kommervrye lewe gehad wat ons soms dink hy gehad het nie. Hyself verwys na al die kommer wat hy beleef het in vers 3. Maar in vers 6 vind ons Dawid se hart. Daar verklaar hy dat hy vashou aan God se troue liefde, dat hy weet dat God vir hom uitkoms sal bied en dat hy daarom God wil eer met sy lewe. Ek wil tog een ding by u elkeen laat vanoggend: Wees baie versigtig om gevoel te vertrou. Gevoel en emosie kan soms soos ‘n klimtol op en af gaan. En as ons ons verhouding met God gaan baseer op hoe ons voel, gaan ons verhouding met Hom ook op en af gaan. Nee, ons verhouding met God is gebaseer op sy beloftes in sy woord. Want al voel dit soms, soos vir Dawid, dat God my verlaat het, kan ons verseker weet dit is nie so nie. Want sy woord bevestig dit aan my. Kom ons bly by God, ten spyte van wat gebeur in u lewe. Sorg dat u naby God bly, en u sal ook soos ‘n Dawid kan vashou aan die troue liefde wat u net by Hom sal beleef. Here, help my om naby aan U te bly. Help my om my verhouding met U op u beloftes in U woord te baseer en nie altyd my gevoelens te vertrou nie. In Jesus Naam