Datum:
Opskrif:
Gedagte:
4/2 Goeiemore. Dis Dirk aan hierdie kant en dankie vir die wonderlike voorreg om die Woord van die Here vanoggend met u te deel. As daar iemand in die kerkgeskiedenis is wat my maar net bly fasineer, dan is dit Martin Luther. En Luther het in sy lewe ‘n les geleer wat ek dink baie van ons soms nog by vassteek in ons geloofslewe. Luther het in die jaar 1511 aan die Universiteit van Wittenberg begin klasgee as professor. In hierdie tyd het Luther se eie geloofstryd in intensiteit begin toeneem. Sy daaglikse skuldbelydenisse het soms tot ses uur op ‘n keer geduur. Sonde vir sonde is in detail bely. Hy het elke deeltjie van sy hart en siel deursoek vir sonde. En wanneer hy dit klaar bely het, het hy telkens van voor af begin net vir in geval hy iets vergeet het. Hy moes net seker maak dat hy vergifnis vir alles by die streng God kry wat hy aanbid het. Later het Luther so verval in skuldbelydenisse dat die priesters wat aan diens was in die kerklike bieghokkies hulself vir hom vervies het. Hulle het gese hy oordryf en Luther het hulle beskuldig van ‘n gebrek aan toewyding teenoor God. Later kon Luther se daaglikse urelange gebede hom nie eens meer tot rus bring nie. Te midde van ‘n intense sielestryd het hy begin klasgee in die Psalms, daarna Romeine en toe die Galasiersbrief. Hierdie kan beskou word as Luther se eie Damaskus ervaring. In sy studie van die Psalms het hy onder andere ontdek hoe Christus die woorde van Ps 22 aan die kruis aangehaal het: “My God my God, waarom het U my verlaat?” Skielik het Luther besef watter lyding en stryd Christus aan die kruis deurgemaak het en het hy orals in die SKrif ‘n lewensgrootte spoor van genade in Christus se optrede ontdek. Hoe kon ‘n genadige God dan slegs kwaai en veroordelend wees, het hy begin wonder. Hy het begin wonder of die kerk se beeld van ‘n altyd ontevrede God wat net regstaan om te straf en mense die verdoemenis in te stuur nie dalk verkeerd is nie. Om ‘n lang storie kort te maak, Luther het begin besef dat hy geen teenprestasie aan God hoef te lewer nie. Geloof is al wat gevra word van die mens in reaksie op dit wat God onverdiend en verniet vir sondaars gedoen het. Luther het ontdek dat dieselfde God wat eise stel ook die God is wat self aan daardie eise voldoen. Luther het later in sy eie woorde gese dat hy op daardie tydstip in sy lewe besef het dat hy hierdie streng, onbeweeglike God wat hy aanbid het nooit liefgehad nie. Inteendeel, hy het God maar net probeer paai en tevrede stel. Die woorde van Rom 1, en veral vers 17 het dieper en dieper in sy siel ingebrand. “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe”. Somtyds maak ons so maklik ons verhouding met God een van moets en moenies. Een van reels en wette, voorskrifte en regulasies. Soms sien jy gelowiges wat selfs so ver gaan as om terug te gaan na die OT wette en so probeer om God te paai en tevrede stel. Hoe arm maak ons dan nie ons eie verhouding met God nie. Want Hy is nie ‘n God wat tevrede gehou kan word deur ‘n klomp reels en wette te gehoorsaam nie. Want waar trek ‘n mens die lyn? Wanneer hou ons dan op om wette en voorskrifte by te voeg net om God tevrede te stel? Want Paulus is duidelik: God spreek mense vry op grond van hulle geloof in Christus. Net dit. Nie geloof en nog iets nie. Nie geloof en nog wette, of nog voorskrifte of nog reels nie. Ja, ons verhouding met God verwag van ons ‘n skoon en rein lewe. Maar dis die uitvloeisel van ons verhouding met Hom. Dis die natuurlike gevolge van my liefde vir God. Dan WIL ek so leef. Nie omrede Hy dit vereis of omrede dit my help om guns by God te vind nie. Nee, omrede ek Hom in alles eerste wil stel en graag wil leef soos Hy van my vra. Uit dankbaarheid, nie uit verpligting nie. Here, Help ons asseblief om te besef dat u niks anders as geloof in die werk van U Seun Jesus Christus van ons verwag nie. Dat ons u nie kan tevrede stel deur wette te gehoorsaam nie, maar bloot net deur U lief te he. Amen.