Datum:
Opskrif:
Gedagte:
3/2 Goeiemore aan almal. Dis Dirk wat met u gesels vanoggend. Ek kan onthou toe ek as klein seuntjie geleer het om in te kleur. Die enigste manier hoe ek kon keer dat ek nie oor die lyne inkleur nie was om my vinger op die lyn te hou. Sodoende het ek die hele tyd teen my vinger vas ingekleur en binne die lyne gebly. Met ander woorde, ek het ‘n grens gevorm met my vinger wat sou verhoed dat ek nie buite die lyne van die prentjie beweeg nie. Ek dink vanoggend aan die versoekings wat oor ons almal se pad kom en wat veroorsaak dat dit vir ons voel of ons al verder en verder van God af beweeg. Ons weet dit is nie so nie want God is mos maar altyd by ons. Selfs in ons droogmaak tye. Maar hoe hanteer ek dan daardie versoekings wat my so bekruip en oorval voordat ek dit nog raaksien? Ek leer so iets by Job. In 31:1 se Job die volgende: “Ek het my plegtig verbind om nie na ‘n meisie te kyk en haar te begeer nie”. Miskien was dit ‘n versoeking waarmee Job geworstel het, want waarom sou hy anders so ‘n besluit geneem het? Hoe dit ookal sy, ek dink ons kan so ietsie by Job leer oor hoe om versoekings te oorkom wat ons pad kruis. Eerstens het hy erken dat hy ook versoek kan word. Sommige gelowiges dink dat versoekings nie oor hul pad gaan kom nie en dat die Here dit nie gaan toelaat nie. Onthou egter dat selfs Jesus in die woestyn versoek is. Daar is beslis niks wat ons as gelowiges vrywaar hierteen nie. Inteendeel…. Tweedens het Job iets hieromtrent gedoen. Hy het homself plegtig verbind om nie toe te gee aan die versoeking nie. In die oorspronklik staan daar geskryf dat hy ‘n verbond met sy oe gesluit het. Hierdie was nie sommer net so ‘n onderneming nie. Nee, dit was vir Job so ernstig dat hy ‘n verbond met sy oe gesluit het, homself nie net verbind het nie, maar PLEGTIG verbind het om nie aan sonde toe te gee nie. Hy het ‘n grens gestel. Soos my vinger my gehelp het om ‘n grens te stel en binne die lyne van die prent in te kleur het Job grense gestel om te keer dat hy buite God se wil beweeg. Wat ookal u versoekinge is waarmee u worstel, dit is belangrik dat ons dit herken en erken vir wat dit is. SONDE! En dan, om biddend en in afhanklikheid van God ‘n besluit te neem oor hoe u die situasie gaan hanteer wanneer dit in die toekoms weer u pad kruis. Want glo my, dit gaan. En wanneer ons faal, wanneer ons toegee aan versoekinge, is die belangrikste om dit voor God te bely en weer die stryd daarteen op te neem. Want hoe meer tyd ons saam met God spandeer hoe makliker word dit om versoekinge die hoof te bied. Laat ons mekaar in gebed aan God opdra, want vir enige persoon wie se verhouding met God vir hulle belangrik is, is dit ‘n slegte belewenis en ervaring om aan versoekinge toe te gee. Daarom het ons ook mekaar se gebede nodig om as oorwinnaars hieroor uit die stryd te tree. Here, help ons elkeen asb in tye van versoekinge. Gee vir ons die wysheid om dit te erken, maar oor die krag om dit te oorwin. In Jesus Naam